Die aanleg vir afvalwater in Sedgefield in die Suid-Kaap is teen ’n koste van R19,5miljoen opgeknap.

Volgens die Knysna-munisipaliteit is die projek grootliks deur die toelaes vir munisipale infrastruktuur en ekstra finansiering van die munisipaliteit gefinansier.

Die aanleg se kapasiteit is verdubbel van 0,75 megaliter per dag tot 1,50 megaliter per dag.

Die projek is in twee fases (1A en 1B) afgehandel. Die eerste fase is in April 2017 voltooi en die jongste fase in April 2018, sê die Knysna-munisipaliteit in ’n verklaring. Die projek sluit onder meer nuwe tegnologie in om seker te maak dat die munisipaliteit aan standaarde van die departement van water en sanitasie voldoen. Aandag is ook gegee aan beperkings van die infrastruktuur soos die vermoë om slyk te hanteer en fosfaat te verwyder.

Werkgeleenthede is deur kontrakteurs aan plaaslike inwoners verskaf.

Volgens Mark Willemse, Knysna se burgemeester, kyk die munisipaliteit nou na die volgende fase van die projek, wat die opknapping van grootmaat-rioolstelsels in Sedgefield behels. Die munisipaliteit is in die proses om aansoek te doen om finansiering vir dié fase.

Die raadgewende ingenieurs Neil Lyners and Associates en Golder Associates, asook Prentec Mechanical & Electrical Contractors het aan fase 1A en 1B van die projek gewerk.

share

Share on facebook
Share on twitter
Share on pinterest
Share on linkedin
Share on email