Danksy ‘n afdak in die binnehof by Windmeul Primêr het leerders nie meer nodig om op ‘n knop tydens byeenkomste te sit nie.

As ‘n “gemeenskapskool”, soos wat Wayne Cupido, die skoolhoof, dit stel, gaan die hele Windmeul gemeenskap by dié afdak baat.  Hoewel die skool ‘n klein saal het, het dit ‘n onmoontlike taak geword om almal in te pas wanneer dit tyd is vir ‘n byeenkoms.  Die einste saal is ook tydens die hewige Covid-19 tydperk in drie klaskamers verdeel om by die regulasies te hou en nie die aantal leerders per klaskamer to oorskry nie.

Volgens Cupido het die projek teen middel 2020 ‘n aanvang geneem deur die behoefte van ‘n onderwyser, Owen Theunissen, om vir die skool ‘n groter saal te bou.  Theunissen is ook die onderwyser wat tans die langste tyd – meer as 30 jaaar – by die skool is.

“Behalwe vir onderrig en leer word die skool ook gebruik deur die plaaslike rugby- en netbalklubs, deur kerkorganisasies en Sondagskole.  Baie ander organisasies gebruik ook die skool, soos byvoorbeeld vir wyksvergaderings.  Die behoefte aan ‘n saal het al hoe groter geword.”

Windmeul het toe ‘n vennootskap gevorm met Lyners-ingenieurs om vir die skool ‘n saal te bou.  Cupido sê die projek het ‘n skielike wending geneem toe die voorsitter van die skoolbeheerliggaam, Ricardo Baartman, hulle aan Faried Boltman, wat ‘n bestuurslid by die South African Muslim Charitable Trust (SAMCT) is, voorgestel het.  Boltman het die skool aanbeveel om ‘n brief aan die trust te rig rakende ‘n aansoek vir geld vir die projek.

“Aansoekbriewe is geskryf en SAMCT het ons in November 2020 geantwoord en gesê “ons sal vir julle R1 miljoen vir die projek skenk”.  Ons het toe gaan herbesin en weer oorbeplan en die saal is toe vir eers op ys geplaas, maar die R1 miljoen sou miskien goed te pas kom om die binnehof van die skool toe te maak en onderdak te sit”, verduidelik Cupido.

Planne vir die afdak is opgetrek terwyl argitekte en ingenieurs ook verdere opmetings begin maak het.

Nadat Lyners-ingenieurs die skool in kennis gestel het oor wat hulle die skool vir daardie bedrag geld kan bied, is die papierwerk afgehandel.  Bouwerk het in die middel van 2021 begin en dit was glad nie ‘n maklike taak nie.

“Die projek is einde November 2021 voltooi – onder baie moeilike omstandighede, moet ek sê – want op daardie tydstip was die onderwysdepartement deur [die department van] openbare werke ook besig met herstelwerk (geskeduleerde instandhouding).  Hulle het die dakke by die skool vervang en dit was moeilik om twee bouspanne op een terrein te hê, gegewe die feit dat ons steeds onder die beperkende Covid-19 regulasies was.”

Cupido voeg by: “ons het besluit om die skool van 1 September 2021 af terug te bring na volle kapasiteit.  So, die koőrdinering, die deursigtigheid en die beplanning deur die personeel en van die [department van] openbare werke en Lyners-ingenieurs moes van so ‘n aard gewees het dat ons nie ontwrigting veroorsaak het nie.

“Bouwerk het aan die een kant voortgegaan sowel as onderrig en leer aan die ander kant.”

Sedert die voltooiing van die afdak kon die leerders en personeel van Windmeul onmiddellik vir byeenkomste daarvan gebruik maak.  Cupido sê die gemeenskap het ook reeds begin om die afdak vir saamtrekke, eredienste en selfs begrafnisse te gebruik.

“Die binnehof word deur die gemeenskap vir allerhande geleenthede binne perke gebruik, soos wat dit deur die beheerraad voorgestel word.  Op die oomblik genereer ons ‘n minimale fonds net om die plek in stand en netjies to hou, maar dit is regtigwaar tot voordeel van die leerders, die personeel en die breë gemeenskap.”

Die amptelike inhuldiging van die afdak was verlede Donderdag (24 Maart), omdat die skool dit as gevolg van die pandemie nie vroeër  kon hou nie.

  • Thanks to a canopy that was erected in the courtyard of Windmeul Primary, learners now longer need to sit in a tight space during assembly.